Saturday, June 10, 2017

Dag Tien: Melton Wold Gasteplaas

Die volgende dag ry ons vroeg met die hoop dat ons 'n lekker plaasontbyt in 'n koffiewinkel op Suid Afrika se sterredorp, Sutherland sal kry. Maar die hoop staan beskaamd. Na twintig minute se op-en-af ry in Sutherland sien ons nie een oop eetplek nie. Die wat daar is, lyk maar redelik gehawend en nie eintlik verwelkomend nie. Dis seker maar buite seisoen of 'n bietjie vroeg, besluit ons, en ry verder in die rigting van Fraserburg.


Die pad tussen Sutherland en Loxton via Fraserburg is a lang grondpad van by die 150km, omring deur wye Karoo-vistas. Van eergister af kom ons agter dat ons op die voorpunt van een van die winter se eerste kouefronte ry - as ons agtertoe kyk, Kaap se kant toe, is die lug oopgetrek behalwe vir 'n paar vlieswolkies. Maar vorentoe is dit omtrent heeltemal bewolk en kort-kort ry ons in koue motrëen in. Dis lekker ryweer en die grondpad is doodstil, so ons stop baie langs die pad om die wêreld te bekyk.

Net voor Victoria-Wes is die Melton Wold Gasteplaas uitdraai. Die plaas is 'n klassieke oase in die Karoo, kompleet met palmbome, plate riete waar nattigheid is, en lang rye reusagtige populierlanings. Ons stop voor 'n statige gastehuisgebou met 'n oudtydse tuin hekkie en 'n leiklip paadjie wat tot by die voordeur lei.


In die voorportaal word ons vriendelik deur die eienares, Ronél ontvang. Sy vertel ons dat Melton Wold die oudste gasteplaas in Suid Afrika is. Hul gasvryheid hier strek terug tot in 1938, sê sy, en gee ons 'n interessante geskiedenispamflet van die plaas. Sy wys ons twee of drie van die ruim, netjiese gastekamers wat presies nog lyk soos vyftig jaar terug. Die dekor voer my terug na my vakansiedae saam met my ouers, toe hotelkamers nog radioboksies gehad het waarmee mens Sprinbok Radio en die Afrikaanse Diens kon luister.

Sy beduie waar die kampterrein is, 'n ent weg van die gastehuis.



Dis 'n yslike, oop stuk grasperk so groot soos twee rugbyvelde omring deur stok-ou wilge en dennebome. Behalwe vir een ander egpaar met 'n waentjie en 'n daktent is ons die enigste kampers. Ons kampplek is eenvoudig - 'n lekker groot vuurmaakplek, 'n kraan met heerlike water en 'n kragpunt. Die netjiese en moderne ablusieblok is buitengewoon ruim, waarskynlik kom groterige groepe gereeld hier uitspan.




Daar's ook 'n bielie van 'n plaasdam met helderskoon water om in af te koel in die warm somermaande, maar nou steek ons nie eens ons groottone in die koue water nie.


Ons het skaars begin vuurmaak toe steek 'n rukwind op - weereens een van die maaksels van die koue front wat ons agtervolg. Dit begin motreën, en ons maak ons kits-afdak weer staan. Hy't klaar meer sy kooprys op hierdie reis verdien, want dit vat eerlikwaar omtrent twintig sekondes om hom oop te maak. Gelukkig bedaar die wind en rëen en gee ons kans om klaar te eet en reg te maak vir die bed. Ons was skaars in die bed toe dit weeropsteek, hierdie keer met mening. Soos tydens Anysberg se storm beweeg die Bundutop en die afdakkie skaars. Terwyl ek indommel wens ek myself en Adeline weereens geluk met ons prysenswaardige kampeer beleggings.

No comments:

Post a Comment