Friday, June 2, 2017

Dag Vier: Porcupine Camping Ground

Die volgende oggend is ons vroegerig weg om die Sewewekepoort aan te durf. Eers stop ons op Calitzdorp vir 'n bottel wyn or twee by die plaaslike kelder, en vul dan ons voorraad gedroogte vrugterolle aan by 'n padstalletjie. Anderkant Calitzdorp ry ons eers deur die Huisriverpas en draai dan af op die grondpad wat deur die nou gleuf van Sewewekepoort kronkel. Die stopplekke hier, in teenstelling met die goed ontwikkelde afdraaiplekke in Meiringspoort, is sonder geriewe en baie van hulle is bestrooi met rommel. Dis 'n jammerte op so besonderse roete.


Anderkant die berg is dit nog so dertig kilometer grondpad tot by Porcupine Camping Ground, ons oorstaanplek vir die volgende twee nagte. Ons word hartlik deur die plaaseienaars, Allan en JoyClack ontvang. Ons boomryke kampplek is op die oewer van 'n droë rivierloop, weg van ander kampeerders. Dis die eerste kampplek waar ons ons eie opelug badkamer het, en dis nie lank nie toe arriveer die Allan om die donkie waterverwarmer te kom stook.


Die kampplek is goed toegerus maar het nie elektriese punte of beligting nie. Instede het hulle 'n paar redelike gehawende paraffienlampe waarvan, vind ons later uit, nie een werk nie. Gelukkig het ons ons eie beligting so dis nie 'n probleem nie.

Ons ry die volgende dag Gamkakloofdam toe, so vyftig kilometer weg. Ons was al voorheen daar, maar voor ons gekom het, het ons gehoor die dam is al geruime tyd dolleeg. Die nou, klipbesaaide grondpad na die dam toe loop deur die Bosluiskloofpas, 'n stukkie grondpad wat net-net nie kwalifiseer as 'n 4x4 roete nie.



Die omgewing om die dam is verlate en leeg behalwe vir 'n paar verlepte selfsorghuisies. En ja, behalwe vir 'n klompie klein watergate waar babers nog borrels blaas,en 'n modderpoel reg voor die wal is die dam dolleeg.


Dis 'n aardige gevoel om op 'n vlakte van gebarste modder wat strek so ver die oog kan sien te staan. Ons loop tot in die middel van die dam. Dis doodstil hier, en onwillekeurig voel ek of ek moet bid vir reën. Later voor ons die terugtog aanpak ontmoet ons 'n Waterwese ingenieur wat vertel hoe leeg al die damme van die omgewing is. Môre sal ons by die Floriskraaldam verby ry, en dié dam, sê die ingenieur, is 14% vol - so goed as leeg.

No comments:

Post a Comment